Estimated reading time: 4 minutes
Aartappels SA se inligtingsafdeling samel voortdurend ’n verskeidenheid van datapunte in met die doel om waardevolle insigte vir produsente te ontwikkel. Hierdie insigte stel produsente in staat om meer ingeligte en gestruktureerde besluite te neem in ’n bedryf wat gekenmerk word deur dinamiek en onsekerheid. Die data word ook strategies aangewend om die aartappelbedryf as geheel teen eksterne druk te beskerm – onder meer van regeringsinstellings, drukgroepe en internasionale rolspelers.
’n Vraag wat soms opduik, is waarom dit belangrik is om data te verskaf. Die doel van hierdie artikel is om die waarde van data uit te lig en te verduidelik waarom elke hektaar en inskrywing op die datastelsel saak maak.
Besluitneming begin by data
In ’n wêreld waar landbou-omstandighede voortdurend verander – van klimaatsinvloede tot stygende insetkoste – is akkurate data die grondslag van goeie en ingeligte besluitneming. Sonder betroubare inligting word besluite dikwels op aannames gebaseer, wat groot finansiële en strategiese gevolge kan inhou.
Die afgelope vyf jaar was daar verskeie gevalle waar data oor hektare en opbrengste ’n deurslaggewende rol in die beskerming van die aartappelbedryf gespeel het. Hierdie data is gebruik om bewys te lewer tydens motiverings teen voorstelle soos buitensporige verhogings in arbeidskoste, voortdurende druk vir hoër elektrisiteitstariewe, en ander insetkostestygings wat die volhoubaarheid van produsente ernstig kan ondermyn.
’n Versoek is onlangs in die Sandveld ontvang dat ’n derde van die hektare weens waterkwessies nie meer beplant moet word nie. Danksy tydige, akkurate data oor hektare, opbrengste en markvolumes kon ’n deeglike impakstudie saamgestel en aan die regering voorgelê word, wat gehelp het om die besluit suksesvol teen te staan.

Invoerbeperkings werk wél
Een van Aartappels SA se groot suksesse is die instelling van ’n teenstortingsheffing (TSH), wat voorkom dat goedkoop, bevrore aartappels die plaaslike mark oorstroom. Hierdie beskermingsmeganisme help om plaaslike pryse stabiel te hou en produsente teen onbillike internasionale mededinging te beskerm.
In November 2021 het die Internasionale Handelsadministrasiekommissie (ITAC) ’n ondersoek ingestel na die invoer van bevrore skyfies uit die Europese Unie, met ’n spesifieke fokus op uitvoerders uit België, Nederland en Duitsland. Hierdie drie lande het tussen 2018 en 2024 saam meer as 80% van Suid-Afrika se ingevoerde skyfies uitgemaak.
Tydens die ondersoek is TSH’s van 181% tydelik ingestel, en in Mei 2023 is die finale tariewe vasgestel op 67.33% vir België, 181.05% vir Duitsland en 239.1% vir Nederland. Die effek was beduidend: Invoervolumes het kort ná die implementering van die maatreëls begin afneem – ’n duidelike aanduiding dat die beskerming doeltreffend was.
Sonder betroubare data oor plaaslike produksie, hektare, volumes en insetkoste sou hierdie sukses egter nooit moontlik wees nie. Sonder akkurate inligting sou onrealistiese prysdruk die winsgewendheid van produsente verder verswak en plaaslike voedselsekerheid in gevaar stel. Data is dus nie bloot statistiek nie – dit is die fondament waarop die aartappelbedryf se beskerming en voortbestaan rus.

Grondslag van goeie besluite
Waardevolle inligting oor hektare vorm die vertrekpunt van talle datastelle en dien as die grondslag vir opbrengsberekeninge, insetkostemodelle en produksieprognoses. Sonder akkurate hektare-data kan geen realistiese prentjie van die bedryf se omvang, kapasiteit of ekonomiese waarde saamgestel word nie.
Hierdie inligting word gebruik om verwagte lewerings te voorspel, bottelnekke te identifiseer asook die waarde van die bedryf te bepaal. ’n Goeie voorbeeld uit 2024 illustreer hoe belangrik hierdie data is: Onakkurate hektare-inligting het daartoe gelei dat meer as R250 000 se finansiële verliese binne slegs twee weke gely is. Hierdie voorval het beklemtoon hoe belangrik dit is dat data akkuraat, volledig en betyds beskikbaar moet wees.
Inligting vorm die grondslag waarop die bedryf se kennis en beskermingsmeganismes gebou is. Elke produsent wat hul data deel, dra tot die groter prentjie by en help om die sektor meer veerkragtig en mededingend te maak. Hektare is dus nie net ’n syfer op papier nie – dit is die beginpunt van volhoubare besluitneming, ekonomiese beskerming en toekomstige groei. – FP Coetzee en Jodie Hattingh, Aartappels SA

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan FP Coetzee by fpcoetzee@potatoes.co.za of Jodie Hattingh by jodie@potatoes.co.za