LandbouRadio weerlê mites oor aartappels
Estimated reading time: 4 minutes
Aartappels SA se 2025-veldtog op LandbouRadio behels ‘n reeks praatjies deur voedingkundiges, navorsers en ander rolspelers, onder meer oor onderwerpe soos aartappelvariëteite en hul gebruike, gaarmaakmetodes en vele meer.
Hierdie gesprekke is gemik op ‘n hoofsaaklik Afrikaanssprekende gehoor van sowat 750 000 luisteraars landswyd, en word daagliks op verskillende gemeenskapsradiostasies uitgesaai. Op 11 en 30 Julie onderskeidelik, is met dr Carmen Muller van die Universiteit van Pretoria gesels oor wanpersepsies rakende aartappels, en met André Coetzee van Aartappels SA oor innovasie in die aartappelbedryf.
Sóveel meer as net ’n stysel
Dr Carmen Muller, ‘n navorser in menslike voeding aan die Universiteit van Pretoria, het mites oor aartappels uit die weg geruim en onder meer gesels oor die persepsie dat aartappels jou vet maak en bloot net ‘n stysel is.
Volgens dr Muller is ‘n aartappel egter ‘n maaltyd op sy eie en bevat dit ‘n goeie dosis vitamiene en minerale wat in verhouding met mekaar is.
Aartappels is ook propvol kalium en natrium. Tog glo baie mense ‘n piesang is die beste bron hiervan. Haar navorsing het bevind dat aartappels wesenlik meer kalium en magnesium bevat as piesangs. En dan is daar ook die opvatting dat aartappels vet maak omdat dit ‘n stysel is. “A nee a,” sê dr Muller, “dit is glad nie die geval nie! Nes ‘n aartappel op sy eie jou nie gaan vet maak nie, so gaan ‘n selderystokkie jou ook nie maer maak nie.
‘n Gebalanseerde dieet is van onskatbare belang en aartappels kan deel daarvan uitmaak, omdat dit ‘n minimaal-verwerkte stapelvoedsel is.”
Wat die omgewingsvoordeel van aartappels teenoor ander stysels soos brood en rys betref, sê sy aartappels word minimaal verwerk om dit te kry tot waar dit genuttig kan word. Om dit vanaf die grond tot in die bord te kry is min water en krag nodig, wat beteken dit is ‘n baie meer omgewingsvriendelike stysel as ander soorte. Sy benadruk dat aartappels beskou word as ‘n heelvoedsel of whole food waarmee min gedoen behoort te word om dit eetbaar te maak, en dat sy kweekhuisgasvrystellings baie laag is.
Aartappels is dus bobaas as dit kom by voedingsdigtheid en kweekhuisgasvrystellings.
Dan is aartappels boonop ‘n stapelvoedsel wat sosiale en kulinêre grense oorbrug. ‘n Aartappel kan op sy eie as ‘n geurige, smaakvolle en aardse dis sy man staan, of dit kan ‘n bondgenoot wees vir tradisionele of moderne geregte. Vir baie huishoudings is aartappels ‘n bekostigbare stapelvoedsel. En onthou – hou daai meneertjie se skil aan vir gesondheid uit die grond uit!
Innovasie in die aartappelbedryf
André Coetzee van Aartappels SA het in sý onderhoud op 30 Julie verwys na die belangrike rol wat die aartappelprodusent in die organisasie se wel en weë speel. Aartappels SA probeer om die produsent te ken in al die werk wat hulle doen, sodat hulle hierdie werksaamhede eerstens kan goedkeur en ook die waarde van Aartappels SA kan raaksien.
Coetzee sê dit help nie hulle doen ‘n klomp werk en dan word dit nie aanvaar nie. Innovasie is belangrik vir maksimale produksie – jare gelede was die tonne wat geproduseer is baie laer as nou. Tans produseer minder produsente meer aartappels as 30 jaar gelede. Dit is te danke aan innovasie en navorsing.
Hy sê verbruikers verwag ‘n goeie gehalte aartappel en dit is ‘n maatstaf wat in segmente deur Aartappels SA hanteer word, waaronder navorsing, bemarking, verbruikersopvoeding, gemeenskapsprojekte, en dies meer. Veral aan die verwerkingskant is die verwagting groot en die vereistes hoog.
Die uitdaging is altyd hoe om aartappels doeltreffend te bemark sodat dit beter aangewend kan word.
Daarom moet die organisasie innoverend wees. Innovasie gaan egter nie net oor nuwe dinge nie, maar ook om bestaande dinge beter te doen. – LiMari Louw, Plaas Media
Verdere onderhoude sal tot einde 2025 op LandbouRadio uitgesaai word. Om die program aanlyn te luister, volg dit op SoundCloud by die skakel www.soundcloud.com/andbouadio en volg die Facebookblad LandbouRadio of stuur ’n e-pos na lynette@plaasmedia.co.za vir meer inligting.