Estimated reading time: 8 minutes
Limpopo is ’n groot aartappelproduksiestreek waar ongeveer 25% van die land se totale kommersiële aartappels deur 103 produsente geproduseer word. Die mees prominente kultivars wat in die streek geproduseer word vir tafelverbruik en verwerking, is Mondial, Valor en Sifra. Dendron val in Suid-Afrika se tropiese somerreënvalgebied (Figuur 1) en ervaar die afgelope 21 jaar ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 362 mm volgens inligting verkry vanaf die nabygeleë Landbounavorsingsraad (LNR)-weerstasie. Winters in hierdie streek is koel en kort, terwyl somers baie warm en lank is. Gedurende die wintermaande, van Mei tot Julie, ervaar die streek langtermyntemperature van gemiddeld 6°C minimum en 24°C maksimum, met baie min dae waartydens die kwik onder 0°C daal. Derhalwe is twee produksieseisoene hier moontlik: ’n Vroeë aanplanting gedurende Januarie tot Maart, met die hoofaanplanting vanaf April tot Julie.


Danksy hierdie twee aanplantings is die streek se bydrae tot die bedryf in Suid-Afrika een van die grootstes. Die kultivarproef by Dendron is in ’n ewekansige blokontwerp met drie herhalings per kultivar uitgelê. Tabel 1 bevat bykomende tegniese inligting rakende die proef. Grondmonsters is voor plant geneem om die grondvoedingstatus van die proefperseel te bepaal (Tabel 2).


Groeitydperke
Ingesluit in die kultivarproef is kultivars met kort en lang groeitydperke; derhalwe kan groeitydperke die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is onderhewig aan die aard van die seisoen, maar word gesien as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe. Tabel 3 sit uiteen hoe hierdie groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil. Plantgereedheid van moere ten tye van die plant van die proef, sowel as standpersentasie en halmtelling wat later in die groeitydperk waargeneem is, word aangedui in Tabel 3.

Bemarkingsindeks en groottegroepe
Die evaluering van nuwe kultivars soos in die Dendron-kultivarproef verskaf resultate rakende, onder andere, opbrengs- en bemarkingsindekse. Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur elke kultivar te klas en sorteer volgens gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld: Klas 1 Groot of Klas 2 Groot tot Medium). Dienooreenkomstige prysvergelykings word dan gemaak met markpryse soos verkry ten tyde van oes. Die prestasie van nuwe kultivars kan nie net op die resultate van een bepaalde seisoen geskoei word nie, omdat klimaat van een jaar na ’n volgende kan wissel. Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene getoets. Soos met enige gewas is temperatuur, beskikbaarheid van water (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval), sowel as hitte-eenhede belangrike faktore wat ‘n wesenlike invloed het gedurende die aartappelplant se groeitydperk. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer die prestasie van kultivars geëvalueer word.
Seisoenale aspekte
Toepaslike daaglikse weerdata vir die betrokke seisoen word verkry vanaf ’n weerstasie wat naby aan die proef geleë is, terwyl langtermyn data vanaf die naaste LNR-weerstasie verkry word. Reënvaldata is in Figuur 2 aangeteken. Oktobermaand kry tradisioneel meer reënval as wat vir hierdie seisoen aangeteken is. Omdat Dendron somerreënval kry, is voldoende besproeiingskedulering baie belangrik, veral gedurende kritieke groeitye wanneer dit warm is. Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit. Groot fluktuasies in maksimumtemperature gedurende die laaste drie maande van die seisoen is sigbaar. Geen noemenswaardige ryp is aangeteken nie, met slegs twee dae gedurende die hele seisoen waartydens die kwik effens onder vriespunt gedaal het. Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n aartappelplant. Die tendens van hitte-eenhede beskikbaar vir die kultivarproef van hierdie seisoen by Dendron, blyk hoër as die langtermyndatatendens van hitte-eenhede te wees, danksy ‘n ietwat warmer as langtermyngemiddelde winter (Figuur 4).



Beduidende kultivareffek
Opbrengsdata versamel tydens oesdag word onderwerp aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddelde te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie betrokke proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was goed (12.3%). Hierdie faktore dui daarop dat die proef so goed as moontlik uitgevoer is en die resultate derhalwe betroubaar is. Die opbrengs van elk van die kultivars word deur die proefgemiddeld gedeel – die proefgemiddeld van al die kultivars word as 100% geneem. Hierdeur word ’n opbrengsindeks bepaal en word elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs as ’n persentasie van die proefgemiddeld gelees.

Opbrengs- en gehalte-aspekte
Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2023-seisoen is 55.01 t/ha. Dit is effens laer as die vorige drie seisoene se gemiddeld van 58.17 t/ha. Foxy, Mondial, Sound, Lilly, Sababa, Panamera en Connect het almal die beste opbrengs gelewer, met geen statistiese verskil in opbrengs nie. Foxy, Sound en Mondial het ook die beste bemarkingsindekse behaal. ’n Goeie bemarkingsindeks word toegeskryf aan ’n hoër opbrengs van Groot aartappels en/of ‘n goeie persentasie wat van goeie gehalte is.


Groottegroepverspreiding en gradering is onontbeerlike evaluasies wanneer gekyk word na ’n aartappelkultivar se bemarkbaarheid (Figure 6 en 7). Die hoofredes vir afgradering word aangedui in Tabel 4. Misvorming en silwerskurf het die grootste invloed op die gehalte van aartappels in hierdie proef gehad. Soos die aard van seisoene is, fluktueer die prestasie van kultivars van seisoen tot seisoen. Dit is bloot omdat klimaat van een seisoen na ’n volgende nooit eenders is nie. Derhalwe is dit belangrik om konsekwente prestasie van kultivars oor ’n aantal seisoene in ag te neem. Die afgelope drie seisoene se variasie onder deelnemende kultivars word in Figuur 8 aangedui.




Laastens, wanneer daar gekyk word na interne kwaliteit van aartappels, kan prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Om te voldoen aan prosesseringsvereistes, moet kultivars aan ’n skyfiekleurnorm van >50 en ’n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 voldoen (Tabel 5). Tyson het aan die vereiste skyfiekleur voldoen terwyl Kelly aan die SG-vereiste voldoen het. – Enrike Verster, Aartappels SA
Met dank aan die volgende medewerkers: Mossie Jongbloed, produsent, Schalk Grobbelaar, werkgroepvoorsitter, alle deelnemers insluitend First Potato Dynamics, GWK, RSA Saadbeurs en Wesgrow, Ané du Plessis en ander betrokke Aartappels SA personeel. Vir meer inligting, stuur ’n epos aan Enrike Verster by enrike@potatoes.co.za.