Estimated reading time: 8 minutes
Limpopo is ‘n groot aartappelproduksiestreek waar ongeveer 25% van die land se totale kommersiële aartappels deur 103 produsente in die vroeë-, hoof- en laataanplantings (2023 data) geproduseer word. Die mees prominente kultivars wat in die streek geproduseer word vir tafelverbruik en verwerking, is Mondial, Valor en Sifra.

Tom Burke val in Suid-Afrika se tropiese somerreënvalgebied (Figuur 1) en ontvang die afgelope 16 jaar ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 372 mm, aldus die nabygeleë Landbounavorsingsraad (LNR)-weerstasie. Winters in hierdie streek is koel en kort, terwyl die somers baie warm en lank is. Gedurende die wintermaande van Mei tot Julie, ervaar die streek langtermyntemperature van gemiddeld 6°C minimum en 27°C maksimum, met baie min dae waar die kwik onder 0°C daal. Derhalwe is twee produksieseisoene hier moontlik: ’n Vroeë aanplanting gedurende Januarie tot Maart met die hoofaanplanting vanaf April tot Julie. Danksy hierdie twee aanplantings, is die streek se bydrae tot die Suid-Afrikaanse aartappelbedryf een van die grootste.

Die kultivarproef by Tom Burke is in ’n ewekansige blokontwerp met vier herhalings per kultivar uitgelê. In Tabel 1 word bykomende tegniese inligting rakende die proef gegee. Ingesluit in die kultivarproef is kultivars met kort en lang groeitydperke; derhalwe kan groeitydperke die uiteindelike opbrengs van sekere kultivars beïnvloed. Die lengte van groeitydperke is onderhewig aan die aard van die seisoen, maar word gesien as die hoeveelheid tyd wat verloop vanaf opkoms tot natuurlike loofafsterwe. Tabel 2 sit uiteen hoe hierdie groeitydperke van kultivar tot kultivar verskil. Die groeikragtigheid en halmdikte van jong plante is deur die produsent waargeneem en aangeteken in die plek van die gebruiklike plantgereedheid en standtellings, en word ook in Tabel 2 aangedui.


Bemarkingsindeks
Die evaluering van nuwe kultivars soos in die Tom Burke-kultivarproef bied resultate rakende, onder andere, opbrengs- en bemarkingsindeks. Die bemarkingsindeks van die betrokke kultivars word bereken deur kultivars te klas en sorteer volgens gehalte en groottegroepe (byvoorbeeld: Klas 1 Groot of Klas 2 Groot medium). Dienooreenkomstige prysvergelykings word dan gemaak met markpryse soos verkry ten tyde van oes.

Die prestasie van nuwe kultivars kan nie net op die resultate van een bepaalde seisoen geskoei word nie, omdat klimaat van een jaar na ’n volgende kan wissel. Juis daarom word die kultivars verkieslik oor ’n aantal seisoene getoets.
Seisoenale aspekte
Soos met enige gewas is temperatuur, beskikbaarheid van water (hetsy goeie besproeiingskedulering of reënval), sowel as hitte-eenhede belangrike faktore wat ‘n wesenlike invloed gedurende die aartappelplant se groeitydperk het. Hierdie faktore word dus in aanmerking geneem wanneer die prestasie van kultivars geëvalueer word. Toepaslike daaglikse weerdata vir die seisoen word vanaf die naaste LNR-weerstasie verkry.
Reënvaldata is aangeteken in Figuur 2. September en Oktober kry tradisioneel meer reënval as wat gedurende hierdie seisoen aangeteken is. Omdat Tom Burke somerreënval kry, is voldoende besproeiingskedulering belangrik, veral gedurende kritieke groeitye wanneer dit warm is. Minimum- en maksimumtemperature word in Figuur 3 uiteengesit. Groot temperatuurwisseling is gedurende die seisoen sigbaar. In totaal is daar vir 33 dae temperature bo 35°C aangeteken en vir vyf dae selfs bo 40°C. Een voorval van ryp is aangeteken vir einde Julie, met Tyson en Sound wat die meeste rypskade opgedoen het.



Die versameling van hitte-eenhede gedurende ’n groeitydperk is ’n belangrike faktor in die ontwikkeling van ’n aartappelplant. Die tendens van hitte-eenhede beskikbaar vir die kultivarproef van hierdie seisoen by Tom Burke, blyk hoër as die langtermyndatatendens van hitte-eenhede te wees, veral in die eerste maand na plant. Vanaf 25 Mei tot 30 Junie was dit gemiddeld 2°C warmer as die langtermyn gemiddelde temperature en is meer hitte-eenhede in hierdie tydperk geakkumuleer (Figuur 4).
Opbrengsgemiddelde
Opbrengsdata wat tydens oesdag versamel is, word aan statistiese verwerking met behulp van die GenStat®-program onderwerp. Die Tukey-toets van kleinste betekenisvolle verskille (KBV) is gebruik om die gemiddelde te skei. Die kultivareffek gedurende hierdie betrokke proef (Figuur 5) was statisties beduidend (p<0.05) en die koëffisiënt van variasie was goed (8.9%). Hierdie faktore dui daarop dat die proef so goed as moontlik uitgevoer is en die resultate derhalwe betroubaar is.



Die opbrengs van elk van die kultivars word deur die proefgemiddeld gedeel (die proefgemiddeld van al die kultivars word as 100% geneem). Hierdeur word ’n opbrengsindeks bepaal en word elke kultivar se prestasie in terme van opbrengs as ’n persentasie van die proefgemiddeld gelees. Die gemiddelde opbrengs van die proef vir die 2023-seisoen is 67.96 t/ha.
Dit is hoër as die vorige drie seisoene se gemiddeld van 61.2 t/ha. Panamera, Sababa, Foxy, Mondial en Sound het almal die beste opbrengs gelewer met geen statistiese verskil in opbrengs nie. Panamera het ook die beste bemarkingsindekse behaal. ’n Goeie bemarkingsindeks word toegeskryf aan ’n hoër opbrengs van groot aartappels en/of ’n goeie persentasie goeie-gehalte aartappels. Groottegroepverspreiding en gradering is onontbeerlike evaluasies wanneer gekyk word na ’n aartappelkultivar se bemarkbaarheid (Figure 6 en 7).
Gehalte en afgradering
Die hoofredes vir afgradering word in Tabel 3 aangedui. Meganiese skade en vergroening het die grootste invloed gehad op die gehalte van aartappels in hierdie proef. Soos die aard van seisoene is, wissel die prestasie van kultivars van seisoen tot seisoen, bloot omdat klimaat van een seisoen na ’n volgende nooit eenders is nie.



Derhalwe is dit belangrik om konsekwente kultivarprestasie oor ’n aantal seisoene in ag te neem. Die afgelope drie seisoene se variasie onder deelnemende kultivars word in Figuur 8 aangedui, met Foxy en Sifra wat by uitstek die minste variasie toon. Laastens, wanneer gekyk word na die interne gehalte van aartappels, kan prosesseringseienskappe ook geëvalueer word. Om te voldoen aan prosesseringsvereistes moet kultivars aan ’n skyfiekleurnorm van >50 en ’n soortlike gewig (SG) van ≥1.075 voldoen (Tabel 4). Byna al die kultivars het aan die vereiste skyfiekleur voldoen, terwyl geen aan die SG-vereiste voldoen het nie. Geen interne defekte soos bruinvlek of holhart is waargeneem nie. – Enrike Verster, Aartappels SA
Spesiale dank aan Jako Nel, die produsent, Schalk Grobbelaar, werkgroepvoorsitter, alle deelnemers insluitend First Potato Dynamics, Aartappel Saadbeurs en WesGrow, Ané du Plessis en ander betrokke Aartappels SA-personeel. Vir navrae, kontak Enrike Verster by enrike@potatoes.co.za.