Die akkumulasie van droëmateriaal in aartappels

Estimated reading time: 3 minutes

Fotosintese is een van die noodsaaklikste prosesse op aarde. Ons is nie net daarvan afhanklik vir ons voortbestaan nie, maar ook vir ons oorlewing. Maar wat behels fotosintese en waarom is dit so belangrik?

Fotosintese is ’n komplekse chemiese proses wat hoofsaaklik in die blare van plante plaasvind. Die plant vervaardig suikers en stel suurstof vry met behulp van sonlig, water en koolstofdioksied. Hierdie suikers dien as ’n energiebron vir groei en ontwikkeling. Tesame met voldoende voedingstowwe en water produseer die plant dan komplekse koolhidrate, wat uiteindelik tot verhoogde droëmateriaal (DM)-produksie lei.

Faktore wat DMA beïnvloed

Verskeie faktore speel ’n rol in die doeltreffendheid van fotosintese en die gevolglike droëmateriaalakkumulasie (DMA):

  • Doeltreffende onderskepping van sonlig deur die blaaroppervlakte.
  • Dagliglengte.
  • Gesonde plantmateriaal (gehalte van aartappelmoere).
  • Blaargesondheid (vry van siektes en insekte).
  • ’n Gebalanseerde bemestingsprogram.
  • Voldoende waterbeskikbaarheid.
  • Fenologie van die plant en kultivareienskappe.
  • Plantdatum.
  • Wortelgesondheid.

Plante vervaardig dus hul eie ‘voedsel’ deur fotosintese. DM is die opgegaarde plantmateriaal wat uiteindelik in energie omgeskakel word. Die tempo van DMA wissel tussen die verskillende groeistadia.

By aartappels vind DMA in alle plantdele plaas, maar die knolle is die belangrikste sink vir DM. In die vroeë groeistadium is die verspreiding van DM tussen blare en knolle relatief eweredig. Namate die seisoen vorder verskuif die fokus egter na die knolle, waar die grootste toename in DM plaasvind. Kultivars verskil wat die tydsberekening van knolvulling betref; sommige begin vroeër as ander.

Daarom is dit noodsaaklik om te weet wanneer die maksimum DMA plaasvind, sodat bemesting betyds aangepas kan word om optimale resultate te verseker.

Gebalanseerde bemesting

Doeltreffende bemesting is noodsaaklik vir aartappelproduksie. Die sogenaamde 4R-beginsel is hier ter sprake:

  • Regte plek: Korrekte plasing van kunsmis.
  • Regte tyd: Toediening volgens groeistadium.
  • Regte bron: Geskikte tipe kunsmis.
  • Regte hoeveelheid: Toepaslike dosis.

’n Bemestingsprogram moet prakties uitvoerbaar wees en tydens kritieke groeistadia toegedien word om optimale DMA te ondersteun.

Wat stikstofbemesting betref, is die verhouding tussen ammonium (NH4⁺) en nitraat (NO3⁻) ’n belangrike oorweging. Nitraat (N) bevorder die opname van belangrike katione soos kalium (K⁺), kalsium (Ca²⁺) en magnesium (Mg²⁺) op ’n sinergistiese wyse.

NH4⁺ tree egter as ’n kompeterende katioon op en kan die opname van dié elemente beperk. NO3 bevorder DM-akkumulasie in die knolle en is meer energiedoeltreffend wat die produksie daarvan betref. NH4⁺ is minder energiedoeltreffend en kan tot laer DMA lei. Hoë chloriedtoedienings kan ook N-opname onderdruk.

Die elemente wat in die grootste hoeveelhede deur die aartappelplant opgeneem word, is N en K⁺. Die nitraatvorm van N word algemeen as die doeltreffendste bron beskou. Kaliumnitraat is daarom ’n waardevolle komponent in aartappelbemesting, aangesien dit beide N en K⁺ in ’n maklik-opneembare vorm voorsien.

Produkte soos Ultrasol K Plus** en Qrop K* is SQM se kaliumnitraat en is in wateroplosbare vorm en korrels beskikbaar, wat dit moontlik maak om die gewas se behoefte aan N en K⁺ tydig in belangrike groeistadiums te voorsien.

* Reg No K5021 Wet 36/1947. Registrasiehouer Sociedad Quimica y Minera (Africa) (Pty) Ltd.
** Reg No K5020 Wet 36/1947. Registrasiehouer Sociedad Quimica y Minera (Africa) (Pty) Ltd.

Vrywaring: Sover SQM se kennis strek, is die inligting in hierdie artikel akkuraat. Die toepassing van voorwaardes van gebruik en aanwending volgens die aanbevelings is buite SQM se beheer. Geen waarborg word gegee rakende die akkuraatheid van enige data of stellings in hierdie artikel nie. SQM ontken enige verantwoordelikheid of aanspreeklikheid met betrekking tot die toepassing van die aanbevelings en sal onder geen omstandighede aanspreeklik wees vir enige spesifieke, toevallige of gevolglike skade wat uit sodanige gebruik voortspruit nie.

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan Johan Fick by Johan.Fick@sqm.co.za of besoek www.sqm.com.